Sodra ’n seun die drumpel na manwees betree, kom die wonderwêreld van die vroulike liggaam in sig. Skielik word jou beste vriendin, of dalk die buurdogter, vir wie jy nooit eens ráákgesien het nie, jou totale fokus! En waarom, weet jy nie. Vroulike boesems en boudjies is skielik al wat jy sien! En wanneer jy uiteindelik ’n vrou vind wat jou toelaat om haar naak te sien, neem die wonder en asembenemende skoonheid van die vroulike figuur jou verdwaasd en vir ewig gevange! Helaas, totdat die baba jou alleenreg dusver, betree. Ek onthou hoedat ek Hannah se mamma se buik tydens geboorte gestreel het, terwyl ek afwaarts trag, en toe Hannah se klein koppie begin deurdruk, toe eers, op daardie einste oomblik, het die realiteit van geboorte ingeskop.Skielik het die heilige poort der heiligstes, die tempel van Venus en haar tweeling pieke, nuwe dimensie verkry. En toe ek my dogter hier by die poort der heiligstes sien arriveer, het sy onmiddellik haar paadjie na die wonderpieke gevind en skynbaar kamp opgeslaan vir die volgende paar maande. Die ding is dat ’n mansmens nie ten volle besef wat gebeur nie. ’n Mens het net ’n aaklige besef dat alles in die prentjie nie pluis is nie. Dis ’n seën dat die natuur sorg dat die mamma nie vir ‘n tydperk na die bevalling intiem sal verkeer nie. Dis gedurende hierdie tyd dat ek ten volle die omvang van my diep liefde vir my kinders besef het. Tog het ek geworstel met ’n wrok dat hulle die erotiese skoonheid van die vroulike liggaam, en veral die méés erotiese dele, herskep het in blote funksionele bronne van kos en geboorte. Eindelik raak die manlike smagting om verlore gebied te herbeset en die warmte van die menslike liggaam te herontdek te groot, en jy besluit om versigtig die stil water van die kuil te besoek ... . My raad is om dit die eerste paar keer in die donker te doen. Dit het werklik niks met mamma te make nie. Sy was steeds so mooi en beeldskoon as voor die geboorte. Dis ’n sielkundige ding by ons manne, iets wat ons moet konfronteer. Wel so was dit altans vir my. Daar, in die donker, het ek Eros se towerkrag herontdek … vat, voel en verken weer die wonder van die beeldskone, sensuele vroulike wese. Tipies van manwees, sal jy dit natuurlik net een maal in die donker hoef te doen. Daarna is die sielkundige glasgrens vir altyd versplinter en soos alle goeie mans, kan jy dolgelukkig die verhoudig met mamma hervat, asof niks ooit gebeur het nie! Ja-nee, ons manne is voorwaar ongekompliseerde wesens. Net sommige word verwoes en verinneweer deur die enkele emosionele hik op die hoofweg! Vir my was dit so. Ek wonder net … is ek die enigste? 5 Comments |

RSS Feed